DOOR BEWONERS – VOOR BEWONERS
Prettige feestdagen
Gelukkige feestyd
Happy festive season
Die redakteur bedank graag almal wat vanjaar artikels bygedra het en gehelp het dat ons elke maand ’n bulletin vol nuus kon uitgee. ’n Groot woord van dank ook aan Antoinette en die kantoorpersoneel wat gesorg het vir die bywerk van die kalender en veral dat die bulle-tin elke maand gedruk en betyds versprei is.
KERSETE 2025
Die bestuur het ons verras met besonderse Neutkraker saal- en tafelversierings vir ons jaarlikse Kersete op 26 November. Selfs die foto van ons koningspaar het plek gemaak vir twee mooi groot Neutkrakers.
Soos in die verlede het ook Nicci, en haar span in ons kombuis, hulleself oortref met die
voorgereg, maaltyd en verrassingsnagereg.
Lede van die bestuur, elkeen met ’n Neutkraker hemp, het bewys dat hulle werklik die inwoners van De Meerpaal dien deur ons te bedien en ons glasies vol te hou.
Voorwaar ’n gesellige geleentheid vir ons almal. Dankie vir die oorspronklike spyskaart en aan almal wat meegehelp het. Ook dankie aan die bewonerskomitee wat ’n deel van die koste gedra het.
’N PLUIMPIE VIR DIE SORGSENTRUM
‘n GROOT ruiker rooi rose vir ons Versorging. Deur ernstige siekte was ek 5 weke opgeneem in die Versorging; eie kamer en badkamer was gereed toe ek ingebing is. Hulpverleners moes my regop help in my bed, bad en selfs voer. Dit is alles aandagtig en versigtig gedoen. Toe ek sterker word, wou ek nie langer deur ‘n reling vasgekeer word in my bed nie. Al gou skarrel ek uit die bed, kan self stort; hulpverleners het my vorderings gevolg en toe kom daar ‘n tyd vir grappies maak en snaaks wees.
‘n Groot verrassing wag toe ek in die eetsaal kan eet met die ander inwoners. Alhoewel ook hier mense gevoer moet word, heers daar ‘n sfeer wat amper vrolik is: daar word gesels, helpers hard loop heen en weer om te voer en monde af te vee terwyl die suster tussen die tafels beweeg en medisyne uitdeel.
My ervarings was baie goed en nou eet ek nog elke dag die goeie ontbyt in die eetsaal met sy prettige sfeer.
Dankie aan die Susters en Helpers!
Antoinetta Hoogendoorn
NUUS VAN DIE BEWONERSKOMITEE
Ek kan nie glo `n jaar is alweer verby nie. Ons het op 5 November ons laaste vergadering vir die jaar gehad.
Ons volgende vergadering sal eers in Februarie 2026 plaasvind. Op 19 November 2025 het die Bewonerskomitee ons twee-maandelikse vergadering met die Bestuur. Ek hoop ons sal dan meer weet van die verpligte etes.
Die parkering op die terrein bly maar `n groot probleem. Daar is weer klagtes dat besoekers tydens `n funksie of `n begrafnis voor inwoners se motorhuise parkeer. Daar is genoeg parkering op die terrein.
By die afdakke word die probleem net nie opgelos nie. Inwoners kom ons werk saam ! ! Ons weet almal wat beteken `n soliede geelstreep !
Die inwoners wil weereens vir Gerda en haar span so-ook al die vrywillige inwoners wat behulpsaam was om die mark so `n sukses te maak bedank. Die kantoorpersoneel en Kobus met sy span verdien `n spesiale woord van dank.
Na `n heerlike Kersete, wat die hoogtepunt van die jaar is, is daar weer `n datum wat u moet aanteken:
Op 3 Desember vind ons Sinterklaasfees plaas. Ek wonder wie hierdie jaar deur Sinterklaas voor stok gekry gaan word. Onthou “Piet” is ook nog daar met sy sak.
Die Bestuur het die afgelope tyd heelwat aandag aan onderhoud gegee bv.
- Alle geute is skoongemaak.
- Die siekeboeg se geute is herstel.
- Die dakke van die woonstelle se motorhuise is skoongemaak en herstel waar nodig.
- `n Gedeelte van die wandelpaaie is vervang.
- Die kragopwekker is voorsien van `n dakkie om roes te voorkom.
Die Bestuur word bedank vir ons pragtige nuwe wandelpaaie. (Nou hoef ons nie meer ons voete so hoog op te tel nie! ! ! )
De Meerpaal is bekend vir sy pragtige gemeenskaplike tuine, waarop ons almal baie trots is. Hier is ook inwoners wat ywerige tuiniers is. Ongelukkig word daar soms skelmpies steggies by ander tuine afgebreek of soms word sommer die hele plant verwyder. Kom ons vra maar vir `n steggie as u dit so graag wil hê. As ywerige tuinier sal u ook nie daarvan hou as u plante verniel word nie
Die Bewonerskomitee en al die inwoners wil graag die Bestuur en al die werkers hartlik bedank vir hul ywer, geduld met die inwoners, en hul harde werk om De Meerpaal vir ons inwoners so ongelooflik te maak.
Die Bewonerskomitee wens die Bestuur, werkers en al die inwoners `n geseënde en vreugdevolle Kersgety toe en voorspoed vir die nuwe jaar.
Baie groete
Nelke Ribberink
DE MEERPAAL MARK 2025
Benoud kyk almal die week vantevore na die grys hemel en sien die water aanhoudend uit die lug stroom. Maar hoera! Op Saterdagoggend is dit wel koud maar die son skyn. Stalletjies word vinnig opgebou en staan tot by die klubhuis van die besige mini-gholf baan.
Mense stroom deur die hek en uit die voorlopige telling blyk dat die mark meer as R45 000,00 ingebring het!!
Gaan so voort, bewoners met families en vriende.
Antoinetta Hoogendoorn
GEVLEUELDE WOORDE
Vele hebben mond genoeg om iemands werk te kraken
maar zelden hand genoeg om beter werk te maken
Ellie Broere
UIT DE PEN VAN DE VOORZITTER
Liewe Inwoners van De Meerpaal,
Wel, hier staan ons alweer — op die drumpel van ’n nuwe jaar, met koekieskrummels op die tafel, die geur van naeltjies in die lug, en die wete dat Kersvader êrens besig is om sy lysie dubbel na te gaan. En ek stel dit sommer van meet af duidelik: ons gaan hom so bietjie probeer flous oor hoe fantasties ons jaar regtig was. ’n Bietjie “PR” na die Noordpool toe kan mos nie skade doen nie!
Laat ons begin met ’n onderwerp wat Kersvader seker al in sy groot rooi boek aangeteken het: die Bestuurskomitee het vanjaar twee lede verloor. Nou ja, “verloor” is miskien nie die regte woord nie — hulle het self vertrek. Hoekom? Wel… ons kan seker maar erken dat hulle waarskynlik gevoel het dat dit baie harde werk verg om die inwoners van De Meerpaal gelukkig te hou. Hulle het seker besef dat rendiere dalk makliker is om te bestuur as ons geliefde, opinie-ryke gemeenskap!
Maar gelukkig het drie nuwe komiteelede aangesluit. Hulle glimlag nog — vir nou. Dit is slegs omdat hulle nog besig is om uit te vind in watter groot taak hulle hulself begewe het. Ek vermoed hulle weet nog nie dat Bestuurskomitee-diens minder “jingle bells” en meer “jingling nerves” is nie… maar hulle sal uitvind.
En nou, terwyl Kersvader luister (want hy luister altyd), kom ons kyk terug na wat ons dapper probeer verkoop as ’n jaar vol oorwinnings:
- Ons het ’n veilige en betroubare watervoorsiening verseker. Jy sien, Kersvader, geen dorstige elwe hier nie!
- Ons het ’n projek begin om die elektrisiteits-sekuriteit te verbeter. As Eskom op die stout lysie is, is ons darem op die goeie een.
- Ons begroting is… wel… op die tweede probeerslag aanvaar. En tweede keer tel ook, né? ’n Tweede koekie tel immers ook.
- Ons het feitlik volle besetting gehad — sorgsentrum, huur-eenhede, woonstelle, bungalows… alles stampvol (maar nie té vol nie — dit is nie ’n Kersete nie).
- Ons het belangrike sake bespreek oor koffie en beskuit. En soos almal weet, maak koffie enige besluit meer aanvaarbaar.En, soos elke jaar, laat ons De Meerpaal beter agter as wat ons dit ontvang het. Hopelik sien Kersvader daardie deel eerste.
Soos in al die jare voorheen het julle, die inwoners, ’n onskatbare deel van hierdie reis gevorm. Dankie vir die vrae, die idees, die kritiek (ja, Kersvader, daar was kritiek), die ondersteuning, en bowenal die samehorigheid wat De Meerpaal De Meerpaal maak.
’n Spesiale dankie gaan ook aan ons bestuurspan en personeel. Hul harde werk, toewyding en opregte omgee dra die plek meer as enige begroting of jaarplan ooit kan. Sonder hulle sou De Meerpaal net ’n groep geboue wees — mét hulle is dit ’n tuiste.
En so kom ons by die einde van die kalenderjaar, wat hierdie jaar baie soos ’n boks gemengde sjokolade voel: jy weet nooit presies wat jy gaan kry nie — maar daar was baie meer lekkertes as bitter happies.
Mag julle almal ’n warm, vreugdevolle Kerstyd hê, vol vrede, koekies, en hopelik baie min administrasie. Kersvader sal seker sy finale besluit maak oor wie op die goeie lysie beland — en ek dink as ons saamstaan, kan ons dalk deurkom.
Met feestelike groete,
Nils Tania
Voorsitter van die bestuurskomitee
UIT DIE BIBLIOTEEK
Vir maande is beplan aan die Mark op 8 November, wat hierdie jaar deur die Inwoners van De Meerpaal self beplan, georganiseer en uitgevoer is. Namens die Biblioteek wil ons graag van harte dankie sê aan Gerda de Wagenaar en haar komitee vir hulle ywer en harde werk.
Soos enige vorige geleenthede om boeke te verkoop, het die Biblioteekkomitee hierdie geleentheid om geld vir boeke in te samel heelhartig aangegryp.
Vir maande het ons boeke wat gestoor was, bekyk en beoordeel met die oog op ‘n moontlike verkoop op die Mark. In die biblioteek het bokse met boeke vir weke op elke beskikbar plek rondgestaan. Die rakke was by tye heel slordig, soos boeke uitgehaal en bygevoeg is. Graag wil ons ons lesers bedank vir hulle geduld en die feit dat hulle nie gekla het nie en nog steeds die biblioteek soos gewoonlik gebruik het.
Op Markdag was ons gereed om boeke te verkoop, Boeke was alfabeties op die verkoopstafels gerangskik en Afrikaanse, Engelse en Nederlandse boeke het hulle eie spasie gehad. Maklik vir kopers om te sien watter boeke beskikbaar was.
Ons moeite was beloon : Amper R2000 se boeke is verkoop.
Die sukses sou onmoontlik gewees het as die komiteelede Thea, Marie, Louise en Antje nie baie van hulle tyd gegee het om boeke uit te sorteer en in bokse te verpak – ‘n stowwerige en nie baie interessante werk nie.
Baie dankie vir die volle ondersteuning wat ek deur komitee lede gekry het.
Elke
WELKOM
Wij verwelkomen:
Mnr Lane; Mev Camps.
Ons vertrou dat u vinnig tuis en
gelukkig sal voel
OVERLEDEN
Mnr Louis van Mierlo
Mnr Manie Visser
Ons medelewe is met hul familie en vriende.
DE MEERPAAL MARK 2025
Tydens die mark is looitjies verkoop vir ’n bottel 16 jaar Glenfiddich whisky.
Vir R50 kon jy twee nommers kies.
64 nommers is gekies en met die trekking by koffie-oggend op 19 November was die gelukkige wenner Mnr Smits! Baie geluk – Geniet hom
BINGO
De Meerpaal Mark - ons kyk terug
Op ʼn heerlike wintersdag in Junie kom vier van ons bymekaar om te begin reël aan ʼn minimark omrede daar vanjaar geen Dutch Festival gehou gaan word nie. Ons bepaal die datum op 8 November 2025. Idees word rondgegooi en elkeen van ons nl. Jetti, Immogene, Annetjie en ek gaan huis toe met ʼn lys van dinge wat gedoen moet word.
Elke maand word daar vergader om die vordering te bepaal. Margriet kry die pannekoekstal, Annetjie doen die worsbroodjiestal, Jetti reël die kroketten asook die rookwors-broodjies en ek doen die haringstalletjie.
Die woord “MARK” het soos ʼn veldbrand versprei en van oral af bel uitstallers vir stalletjies. Al die voorbereidings verloop volgens plan en skielik het die mini-mark ontaard in ʼn maxi-mark met ongeveer 30 uitstallers en ook ʼn putt putt kompetisie.
Skielik was 8 November op ons en om 06:00 was Cobus en sy werkers en ek reeds besig om tafels reg te sit en gazebo’s op te slaan.
Die hek is oopgesluit en teen 06:45 was die eerste uitstallers op ons. Daarna was dit baie besig. Besoekers het begin aankom en sake is sommer van vroeg af gedoen. Skielik ʼn noodoproep van die haringstalletjie dat die haring uitverkoop is. Vinnig is plan gemaak; ekstra haring is ingebring en met broodjies van die worsbroodjie stalletjie kon ons gou weer haring verkoop.
Gelukkig was dit ʼn heerlike dag en meerendeels bewolk. Daar het ongeveer 1 000 mense deur ons hek beweeg wat maklik hanteerbaar was.
Positiewe geluide was daar baie en natuurlik ook ʼn paar negatiewes maar almal het dit geniet en volgens die berekeninge het ons gelukkig ook op finansiële gebied, ʼn goeie dag gehad. Teen 15:00 kon jy nie eers sien dat daar ʼn mark was nie.
Graag bedank ek elkeen wat alles ingesit het om die mark ʼn sukses te maak.
Gerda de Wagenaar
WITTE OLIFANT / JUMBELINAS
Ons ontvang graag somer klere, skoene en artikels vir die Witte Olifant
VOLGENDE GEWONE VERKOPINGS
- Dinsdag 25 November 7:30 – 09:00
- Donderdag 27 November 11:00 – 12:00
- Maandag 15 Desember 7:30 – 08:30
- Donderdag 17 Desember 11:00 – 12:00
Lewer asb artikels af by Elly Mestrum
Die Mark was ‘n groot Sukses , dankie vir almal wat geskenk en gekoop het.
Brief uit Nederland:
Het is herfst,……de lanen en de parken zijn gekleurd met bruine, rode en gele bladeren en de meeste bomen zijn inmiddels kaal. Het is November en binnen is het gezellig. Buiten in de winkelstraten is de feestverlichting al aan want,………Sinterklaas is in aantocht ! Ook dit jaar komt Sint Nicolaas met zijn stoomboot zijn schimmel “O Zo Snel “ en zijn zwarte pieten helemaal van Spanje naar Nederland gevaren. Dit keer zelfs naar het mooie Waddeneiland Texel. De stoomboot zal net als andere jaren gevuld zijn met cadeaus, suikergoed en marsepein en de kinderen aan de kade zullen net als ieder jaar luidkeels zingen,…”Sinterklaasje, kom maar binnen met je knecht”. En knechten die heeft de Sint volop bij zich. Zo zijn er de luisterpieten die aan de schoorsteen luisteren of de kinderen wel lief zijn, de schoen vul pieten (svp’s) de verzorgpieten voor het paard “O Zo Snel” (pvp’s) en zoals ieder jaar zijn er ook altijd een paar zeurpieten. Maar de belangrijkste piet is Cyber piet. Dat is de bewaarder van de USB stick, en op die stick staan de namen van alle kinderen. Voor alle zekerheid heeft Cyber piet die data ook opgeslagen in de Cloud. Dat heeft hij helemaal zelf bedacht en daarvan is hij nog steeds “in de wolken”.
Veel tijd om de kinderen en de burgemeester de hand te schudden heeft de Sint natuurlijk niet want heel Nederland wacht op hem. Met zijn paard en zijn ZHV pieten (Zonder Hoogte Vrees) is het dus dak op en dak af. Teugels van het paard in de ene, en de laptop in de andere hand om alle info van de luisterpiet te kunnen opslaan. Sommige daken zijn lastig te berijden vanwege al die zonnepanelen want daar trapt het paard snel een barst in. Als de Sint ’s-morgens terugkeert van zijn nachtelijke tocht wacht hem een korte slaap, want op het programma staat het wegwerken van de verlanglijstjes.
Ieder verlanglijstje krijgt maximale aandacht, maar als je ziet wat er soms gevraagd wordt ? Soms vragen kinderen dood leuk om een broertje of een zusje, maar een jong hondje is ook goed ! Ondeugende kinderen krijgen vaak minder dan zij vragen, en soms helemaal niks. Vroeger gingen ze in de zak mee naar Spanje, maar dat gebeurd nu niet meer. Veel te druk voor Sint Nicolaas, al die ongehoorzame kinderen om zich heen. De straf is nu 2 of 4 weken je mobiele telefoon inleveren. En volgens de TIP (Telefoon Inneem Piet) werkt dat prima. Ondeugende Ouders zijn er ook. Laatst nog vroeg de vader van Johan om een nieuwe vriendin voor zich zelf. Sint wordt dan erg verdrietig want dit wordt dan al zijn derde nieuwe vriendin. Sint heeft aan de vader van Johan dus gevraagd of een hond ook goed was. Wanneer de Sint dan ’s-Avonds weer het dak op gaat geniet hij van de liedjes die de kinderen zingen. Liedjes van de maan en de stoomboot en kijkt hij net als de kinderen uit naar zijn verjaardag op 5 december. Eigenlijk moet dat 6 december zijn, maar op die leeftijd kijk je niet meer op een dag meer of minder.

Van Aad Overvliet
VERJAARDAGEN IN DESEMBER 2025
HARTELIJK GEFELICITEERD
Mnr Vos
Me. Majoor
Mnr Smits
Me. Genis*
Me. Le Roux*
Mnr Van Delden
Me. Botha
Me. Bakker
Me. Van Brakel
Mnr Van der Wielen
Me. Slump
Me. Du Toit*
Me. Van Schalkwyk*
*Kroonjaar
NUWE BLOKHOOF
Na jare se waardevolle diens het Fred Siebrands gevra om onthef te word as blokhoof vir huise H21 tot H39. Ons bedank hom vir alles wat hy vir ons in die wyk gedoen het.
Die nuwe blokhoof vir hierdie huise is Tina Horjus. Ons verwelkom haar in ons midde en is dankbaar dat sy gewillig is om ons te help.
Anneke Heesakkers – H1 tot H20
Tina Horjus – H21 tot H39
Bep Wolters – H40 tot H60
Angeline le Roux – B101 tot B108
Imogene Groothuijzen (Hoof) – B109 tot B114 en B127 tot B130
Hein Henze – B115 tot B126
Graham Harding – B131 tot B138
Joop Blokker – W201 tot W308
KOFFIE-OGGEND
Ons gesellige koffie-oggende was weer vol verassings:
27 Augustus, Neder-land, Water-land, Rampen-land.
Luuk Hepkema gee ’n interessante kykie na die onststaan van Nederland, die geskiedkundige stryd teen die watervlak met die bou van dyke, die rol van die watermeulens, en die moontlike ramp wat Nederland in die gesig staar tydens toekomstige vloede en die stygende watervlakke weens aardverwarming.
Op 3 September 2025 beleef ons ’n gevoelvolle aanbieding van Amore Galore
Johan Coertzen (tenoor) en Melissa Gerber-Venter (sopraan) met begeleiding deur Marina Mentz gee ’n uitvoering wat mens hoendervleis gee. Die twee kuntenaars bekoor ons met bekende arias, populêre Afrikaanse liedere en treffermusiek uit flieks en operettes.
ONWETTIGE PARKERING
Vast, wekelijks programma
Zoals gebruikelijk; voor wijzigingen, zie aankondigingen op prikboord en verneem bij koffieochtenden.
MAANDprogramma:
09:00 09:00 10:00 13:30 19:00 | Busdienst; zie hierboven Oefeningen in Hollandia Zaal Spreekuur Dr. Serfontein – kliniek Klaverjas Sjoelen |
09:00 14:30 18:30. | Bloeddruk kliniek tot 10:30 Bijbelstudie Bridgeclub |
09:45 14:00 | Koffieochtend; zie hierboven Koorrepetitie |
09:00 09:30 15:00 | Busdienst; zie hierboven Put-put Bijbelstudie |
09:00 09:00 | Ochtendgymnastiek op het grasveld vóór de flats Bus naar Willow Crossing. |

Uitgave is buiten de verantwoording van het SNBC-bestuur.
Verantwoordelijke redacteur en opmaak: Peet Delport
Productie en verspreiding: Kantoor De Meerpaal
Vaste medewerkers: Aad Overvliet
Afsluitdatum voor nieuwe bijdragen uiterlijk 15de van elke maand aan Peet Delport: p.delport@mweb.co.za
De redacteur behoudt zich het recht voor om inzendingen (vooral anonieme) te weigeren of te bewerken.
